Marcel Duchamp

Marcel Duchamp
Marcel Duchamp, ca. 1927
Gebore
Henri Robert Marcel Duchamp

(1887-07-28)28 Julie 1887
Blainville-Crevon, Frankryk
Sterf2 Oktober 1968 (op 81)
NasionaliteitVlag van Frankryk Frankryk
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State (vanaf 1955)
Beroepskilder en skrywer
Bekend virNude Descending a Staircase, No. 2 (1912)
Fountain (1917)
The Bride Stripped Bare By Her Bachelors, Even (1915–23)
Étant donnés (1946–66)
Ouer(s)Eugene en Lucie Duchamp

Marcel Duchamp [maʁ'sɛl dy'ʃɑ̃] (volle naam: Henri Robert Marcel Duchamp, * 28 Julie 1887; † 2 Oktober 1968) was 'n Frans-Amerikaanse skilder, beeldende kunstenaar, skaakspeler, en skrywer. Duchamp was een van die grondleggers van moderne konseptuele kuns (konsepkuns) en word ook as 'n wegbereider van kubisme, dadaïsme en surrealisme beskou. Die kunsprys Prix Marcel Duchamp is na hom vernoem.

Sedert die 1960's word Duchamp deur baie kunshistorici en -kritici as die belangrikste kunstenaar van die 20ste eeu beskou, terwyl die Franse digter en skrywer André Breton (1896–1966) hom as die "mees intelligente man van die eeu" beskryf het. Duchamp het waarnemers gedwing om nuwe gedagtes te vorm oor wat kuns is.[1] Sy nuwe definisie van kuns was dié van 'n konsep eerder as dié van 'n blote produk.[2] Deur gewone alledaagse gebruiksvoorwerpe, wat buite 'n kunsmuseum nooit as kunswerke beskou sou word nie, na 'n galery te neem en hulle met klein aanpassings as kunswerke te vertoon, het Duchamp bestaande konsepte van kuns radikaal bevraagteken. Tydgenote het in vurige debatte oor Duchamp se kuns geraak, en verskeie kere het dit tot skandale gelei.

Sy skildery Nu descendant un escalier ("Ontblote vrou wat 'n trap afklim") het in 1913 emosies opgesweep, net soos die opvoering van Igor Strawinski se ballet- en orkesstuk Le Sacre du printemps (Die Lenteoffer) in dieselfde jaar in Parys. 'n Resensent van die gesiene dagblad The New York Times het die werk beskryf as "'n ontploffing in 'n dakteëlfabriek".[3]

  1. Kuns en kralewerk: Sinergie tussen die Weste en Afrika. In: Rapport, 15 Januarie 2006. Besoek op 12 Mei 2016[dooie skakel]
  2. Art Knowledge News: Speed Art Museum Presents Marcel Duchamp. Besoek op 12 Mei 2016[dooie skakel]
  3. Moderne kuns wat VSA ’n eeu gelede oorbluf het. In: Beeld, 17 Februarie 2013. Besoek op 12 Mei 2016

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy